You are here
Home > Afrikaans > Lulu-reeks

Lulu-reeks

Lulu wil eendag ’n bekende modeontwerper word …

Oe la la, Lulu

Oe la la Lulu2

Vergeet van wiskunde en skoolwerk!

Lulu wil ’n modeontwerper word.

Nes haar pa en ma.

Niks maak haar gelukkiger as om fantastiese ontwerpe in haar tekenboek te skets nie. Eendag gaan haar klere nog op die loopplanke van Parys en Milaan pryk – wag maar!

Maar die tweeling Alex en Alet voel vere vir Lulu se ontwerpe en haar groot toekomsdrome. Hulle spot net met haar en laat haar gedurig in die moeilikheid beland.

Asof dit nie genoeg is nie, gryp ’n wegholbrak een middag ná skool Lulu se kosbare sketsboek en hardloop daarmee weg.

Maar dit is net die begin van ’n holderstebolder-avontuur met ’n hondetrourok, ’n beroemde aktrise en meters en meters van die allermooiste materiaal!

Oe la la, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Bravo, Lulu

Bravo, Lulu

Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2016

Toe Lulu se balletjuffrou aankondig dat hulle ’n spesiale konsert vir die jaarafsluiting gaan hou, is Lulu baie opgewonde.

Lulu gaan nie net die rol van die meerminprinses dans nie – sy gaan ook ’n paar uitrustings ontwerp! Maar die tweeling, Alex en Alet, hou niks van ballet nie en toe Alex per ongeluk ’n rol in die balletkonsert losslaan, is die gort gaar …

Bravo, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Oepse daisy, Lulu

Oepse DaisyWenner: ATKV-kinderboektoekenning 2017

Lulu droom daarvan om ’n modeontwerper te word, nes haar ma en pa. Niks is vir haar lekkerder as om ontwerpe in haar rooi tekenboek te teken nie.

Daarom is sy sommer baie in haar noppies toe sy hoor haar tannie gaan by hulle kom kuier. Tannie Tula-Belle dra die mooiste klere en sy sing soos ’n nagtegaal. Sy kom juis stad toe om in ’n groot operakonsert te sing.

Toe sy Lulu se pragtige modeontwerpe sien, besluit tannie Tula-Belle op die daad dat Lulu vir haar ’n rok vir die konsert moet ontwerp. Lulu kan nie wag om met die rok te begin nie.

Maar dit lyk of tannie Tula-Belle haar moeilikste kliënt tot dusver gaan wees. En kort voor lank moet Lulu help om die operakonsert te red …

Oepse daisy, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

La-di-da, Lulu

Die skool beplan ’n spesiale verjaardagfees. ’n Groot fees met lekker kos, ’n pretpark en speletjies. Daarom vra die skoolhoof vir Lulu om nuwe uniforms vir die trompoppies te ontwerp. Iets asemrowends! Iets la-di-da waarmee hulle by die fees gaan optree.

Maar ongelukkig is daar ’n vreeslike misverstand – en Lulu verbrou haar enigste kans om die uniforms te ontwerp.

Lulu is stomgeslaan. Een van die ander kinders in die skool gaan die klere ontwerp en maak. Maar wie?

La-di-da, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Hokaai, Lulu

Die groot dag het eindelik aangebreek … Lulu verjaar! Nie eens die nare tweeling van langsaan, Alet en Alex, kan haar dag bederf nie. Veral nie toe Lulu haar verjaardagpresent kry nie – ‘n ponie!

Kort voor lank begin sy met rylesse. Eers gaan dit sukkel-sukkel, maar Lulu is in haar noppies toe sy hoor die ryskool beplan ‘n piekniek in die veld. Al die ruiters en hul ponies mag spesiale kostuums dra. Lulu kan nie wag om ‘n oulike kostuum vir haar en haar ponie te ontwerp nie! Sy droom immers daarvan om eendag ‘n beroemde modeontwerper te word.

Maar dan loop die uitstappie onverwags skeef – en Lulu beland pens en pootjies binne-in haar grootste avontuur nóg!

Hokaai, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Olke bolke, Lulu

Lulu se grootste kompetisie nog!
Lulu droom daarvan om ‘n modeontwerper te word. Niks is vir haar lekkerder as om pragtige ontwerpe in haar tekenboek te skets nie.
Daar is ’n vreemde reuk in Lulu-hulle se huis – die reuk van babapoeier! Klein Wikussie is die oulikste baba op aarde (behalwe as hy verrassings in sy doek maak) – en dit is groot pret om vir hom babakleertjies te ontwerp!
Maar by die skool het Lulu probleme. Greta, die nuwe meisie in hulle klas, lyk baie gaaf, maar agter Lulu se rug vertel sy allerhande nare dinge … Greta spog selfs dat sy beter as Lulu klere kan ontwerp.
Lulu besluit om die uitdaging te aanvaar. Sy en Greta gaan ’n modevertoning hou … en kyk wie die mooiste babaklere kan ontwerp! Maar het Lulu dalk vir Greta onderskat …?

Olke Bolke, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Coucou, Lulu

Drome word waar in die laaste boek in hierdie gewilde meisiereeks!
Uiteindelik word Lulu se grootste droom bewaarheid: sy gaan Parys toe vir haar eie modevertoning, en die grootste name in die modewêreld gaan haar klere modelleer! Die nare tweeling, Alex en Alet, daag ook onverwags op en Lulu is eers bang hulle gaan al haar planne in die wiele ry – maar dan loop iets GROOT verkeerd! Al die uitrustings wat sy gemaak het, raak weg en arriveer nooit in Parys nie! Lulu en haar vriende en familie moet inderhaas ‘n plan maak, maar Lulu is op die punt om moed op te gee. Kan sy nog ‘n suksesvolle modevertoning doen en haar drome laat waar word?

Coucou, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die laaste boek in die Lulu-reeks aanlyn.

Kyk na Oe la la, Lulu se video

Luister na ’n voorlesing

Klik en luister na ‘n uittreksel uit Olke bolke, Lulu.

Idee vir die klas: Onderwysers kan die voorlesing as ‘n luisteroefening gebruik.

Uittreksel uit Oe la la, Lulu

Lulu en tannie Nannie se monde hang oop toe Julia Judd die huis binnestap. Sy het steeds haar sonbril op. Millie lê en slaap in haar arms. Julia kyk rond in die voorportaal.

Sonder ’n woord stap sy dan in die rigting van die sitkamer. Haar hoëhakskoene klik-klak saggies op die teëlvloer.

Lulu en tannie Nannie kyk vir mekaar.

Hulle frons en trek hulle skouers op.

Zweli kom ook aangedraf. Hy lyk ’n bietjie verward. Hy knyp Lulu se rooi boek voor sy bors vas en fl uister: “Dis glad nie wat ek in gedagte gehad het nie. Ek sien ’n gemors kom.

En juffrou Judd hou nie van ’n gemors nie. My kop gaan rol. En wat doen ek dan? Sonder ’n kop, en sonder ’n werk?”

In die sitkamer kyk Julia weer vinnig rond, lig haar neus effens, kug en gaan sit dan op die punt van een van die banke. Millie maak haar gemaklik op Julia se skoot.

“Julia Judd …” piep Lulu nou. “Ek hou baie … nee, vreeslik baie van jou flieks!”

Julia se mondhoeke trek effens asof sy wil glimlag, maar dit gans te moeilik vind. Sy draai haar kop en kyk na Zweli.

Zweli bewe nou vreeslik. ’n Sweetdruppel begin weer langs sy gesig afloop. “Juffrou Judd het die ontwerpe in die boek gesien.

Hmmm, vanmiddag …” Hy vee oor Lulu se boek. Dit lyk of hy gril, want daar is nog nat kwylkolle op die buiteblad.

Julia se wenkbroue lig asof sy hom wil aanpor.

“Sy … uhm … juffrou Judd hou baie daarvan,” stotter Zweli voort.

’n Glimlag breek oor Lulu se gesig. “Rêrig?”

Weer lig Julia haar wenkbroue. Zweli knik en maak die boek oop, by Lulu se trourokke.

Hy blaai deur hulle.

Tannie Nannie kyk sprakeloos daarna.

Lulu kyk ook, asof sy die ontwerpe vandag vir die eerste keer sien. Maar dis natuurlik nie waar nie. Sy het ure aan party van daardie ontwerpe spandeer.

“Juffrou Judd het ’n versoek, Lulu …” Zweli sukkel om die woorde uit te kry. “Sy wil hê … sy wil hê … sy wil …”

“Ek wil hê jy moet vir my ’n trourok ontwerp en maak,” sê Julia met ’n sysagte stem.

Zweli blaas sy asem hard uit en plof op een van die banke neer.

“Dit kan nie wees nie!” roep tannie Nannie. Sy kry Lulu beet en swaai haar amper van haar voete af.

“’n Wa-a-at?” roep Lulu. Sy gryp haar kop vas. Haar oë rek. “Ék? Jou trourok?”

Nou eers haal Julia Judd haar sonbril af.

Sy glimlag net soos in een van haar flieks. “Wag, wag, voor jy te opgewonde raak, Lulu.

Dit is nog ’n groot geheim dat ek oor twee weke trou. Die skinderkoerante moet natuurlik nie hiervan uitvind nie, hoor?”

Lulu en tannie Nannie knik albei angstig.

“Mý trourok,” gaan Julia voort, “word deur die meesterlike Tertius Blom gemaak.”

Lulu se glimlag verdwyn. Maar Julia het gesê sý soek ’n trourok … “Die trourok wat ek wil hê, is vir my kleine Millie. Sy moet óók ’n rok dra op my troudag.”

Millie los ’n effens benoude tjank. Julia streel oor haar kop en glimlag weer asof dit die wonderlikste idee is om vir ’n brak ’n trourok aan te trek. “Sal jy dit kan doen, Lulu Langeveld?”

Oe la la, Lulu is beskikbaar in goeie boekwinkels, of klik hier en koop die boek aanlyn.

Save

Save

Save

Save

Fanie Viljoen
Skrywer, dagdromer, koffiedrinker.
Top